Van ons eerste gedigte - Boeke Van Gister

Go to content

Main menu:

Van ons eerste gedigte

Gedigte van gister

Dis Al.    Jan F. E. Cilliers

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe
in eensame vlug -
dis al.

Dis 'n balling gekom
oor die oseaan,
dis 'n graf in die gras,
dis 'n vallende traan -
dis al.



****

Vergewe en Vergeet.   Totius - Dr. J.D. du Toit

Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan.
waar swaargelaaide waens
met lang spanne osse gaan.

En eendag kom daarlanges
'n ossewa verby,
wat met 'n skok en skudding
dwars-oor die boompie ry.

"Jy het mos doringstruikie,
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap."

Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was verlore;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis -
net een plek bly 'n teken,
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.



****

Klein Ondeug.  Jan F. E. Cilliers

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug;
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar -
keer voor daar ! liewe deug !

Te laat ! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy hom op sy rug
en trappel fluks tamboer.

Hy's kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
Jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy's weg en stil nou, soos 'n muis -
maar glo my nou's dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy 't al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort,
en hy - een swarte vlek !

Daar val meteens, die solderleer,
ja, soos 'n donderslag !
ons loop te hulp met grootte haas -
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag !

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug - moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.

*****


Muskietejag  A.D.Keet.

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net 'n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plagery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry -
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria -
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie...

Hoe sedig sit hy, O, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
Nóu gaan die vabond sterwe...
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, sowaar, ek sweer -
My naam is van der Merwe

****

Mabalêl.  Eugene Marais.

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
vrolik klink die liedjie
wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
Op die voetpad sy alleen,
met die skadu’s om haar heen;
op haar kop die kruik gelig
in gedienstig’ ewewig.
Golwend kleur die hemelboog,
stadig sterf die laaste lig,
en van verre deur die skermmure
winkend blink die eerste vure.

Wydgestrek in eensaam’ vrede
lê Rakwen’, die stille, brede;
glansend in die westerpraal,
met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal.
En die witgepluimde riet
sing ‘n treurig’ wiegelied,
en buigend vleg ‘n wilwersoom al om
die diepgespieëlde hemelkom.

Wag, wag, Mabelêl!
Is daar niks wat jou vertel-
is daar niks wat deur die duister
bang en dringend in jou ore fluister
van die vreeslike gesel
wat jou vrolik’ lied beluister,
wat jou spoor hou, Mabalêl?
Word jy niks gewaar
van 'n dreigende gevaar?
Voel jy nog nie, kil en snood,
Om jou hart die skadu van die dood?

Ver benee die palmietstele
in die bloue duister wag Lalele,
kwintessens van alles boos,
die Wreedheid self, meedoënloos;
met lydsaamheid wat alles kan ontbeer,
wat tyd en toeval kan trotseer;
wat seker as die Noodlot van sy dag
stil-wakker in die diepte op sy ure wag.
Deur winterkou en somergloed,
deur blankend’ droogte en swelgend’ vloed,
deur al die kerende taf’rele,
in sy diepte wag Lalele.

As die straaltjie in die sand
deur 'n vlam-geskroeide land
tussen walle dor en vaal
skaars die rotse van Rakwena haal,
en die hulsels van die riet
'n rouband bind van swart verdriet
om die groenbedekte kuil
waar die laaste water skuil
en die sugtend’ wind versmag
deur 'n woedend’ son verkrag, -
roerloos by die skepplek hou Lalele wag!

En wanneer in donker nagte
rasend losbreek al die magte
van geweld en storm en vloed,
en Rakwen’ omring van angsgeskreeu,
smagtend sig nog eens te wreek,
soos 'n swaar gekweste leeu
swart en brullend deur die bome breek; -
blinkend uit die donker kolk, -
vlieg 'n vlammend’ dolk, -
wat deur stormbanke dig
'n wêreld van verwoeste loof verlig –
ongeroer deur al die groot krakele
in sy diepte wag Lalele!

Droom sy op die kantjie, Mabalêl,
tot haar hart verlangend swel;
in haar peinse ongedeer,
staar sy in die diepte neer,
staar sy in die spieëlgewelf
met die donker reeds omsoom –
tot sy, dromend, self
deel word van ‘n salig’ droom;
uit die wêreld omgekeer
lokkend lag haar beeldjie weer.

Stadig deur die rietpensele
opwaarts uit die diepte rys Lalele.

Skud jou wakker, Mabalêl!
Sien jy nie die skadu opwaarts wel?
Naar die hoogwal, Mabalêl!
Hou jou mymering vir later –
nooit had vyg of wilg in water
so 'n gespieëlde metgesel!
Nooit 'n skrikbeeld uit die holte van die nag,
wat die dromer sug doen na die dag;
nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel
half so dreigend, half so fel
as dié skadu, Mabalêl,
as dié skadu, wat benee jou
uit die diepte opwaarts wel.

Voor jou voete, Mabalêl,
deur die westergloor verhel,
waar jy onbedagsaam staar,
sonder ooit gedagte van gevaar,
uit die stroomweg stadig
dryf 'n halfverdrinkte blaar.

Had jy spiere van 'n tier,
of die vlerke van 'n gier,
meidjie, niks sou dit jou baar,
want te lank het jy gewag – te laat!
Uit die spieëlvlak omhoog
bars 'n skuimend’ waterboog;
Oor Rakwena, kalm en breed,
Galm 'n enkel angsvol’ kreet;
en dan saggies weer
oor alles sak die stilte neer.

Winkend deur die skermmure
helder blink die voornagvure.
Uit die donker stilte, skel,
klink geroep na Mabalêl
en die rotse antwoord weer;
maar terugkom sal sy ... nimmermeer.

Stadig deur die rietpensele
naar die diepte sak Lalele.



Die Vlakte.   Jan F. E. Cilliers

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord;
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
wat my swyend omsluit.


****

O, die Pyn-gedagte.  Totius - Dr. J.D. du Toit


O, die pyn-gedagte: my kind is dood !..
dit brand soos 'n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu's word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink
en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur 'n pyn in my hart,
so dat my lewe se glans verdwyn;
jou kind is dood met 'n vreeslike dood !
en - ek gryp my bors van pyn.

O, die bliksemgedagte !.. Ja, lieflingskind,
een straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos 'n vlindertjie,
sy't lugtig omheen geswerf;
'n asempie wind kon haar vlerkies breek
en - kyk watter dood moes sy sterf.

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis een uit die tienduisend-tal.
En ag ! dat dit sy was en ek moet sien
dat sy dood in my arms val.

O, die pyn-gedagte: my kind is dood ! ...
dit brand soos 'n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.


****

Die Beste.   C. Louis Leipoldt

Geil lusern in die laagste landjie,
geil groen blare en blomme blou;
aalwyn rooi op die voorste randjie,
rooi soos bloed teen die rotse grou;
somer en son en saffier daarbowe,
ruik van die keurbos rondgesprei;
kort klein skaduwees oor die klowe;
somer en son en saffier vir my !
Wonder van kleure uitgesprei -
wat is daar meer die dood te rowe ?
Somer en son en saffier vir my !



****

Slaap.  D.F.Malherbe

Wat is die slaap 'n wondersoete ding !
Sag op haar bloue oë daal die vaak,
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
Verlaas beef oor haar lippe 'n fluistering:
"Nag, Pappie." Ek merk hoe langsaam hy genaak
wat drome soet tot werklikhede maak ....
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wink ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan soete drome huistoe sus,
en sterke Hand deur duisternisse lei ...
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.



****

Winternag  Eugene Marais

O koud is die windjie
en skraal
En blink in die dof-lig
en kaal,

so wyd as die Heer se genade,
le die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk' grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou.

****

Toe die wêreld nog jonk was.  A.G.Visser


“In dié dae was die reuse op die aarde...
die manne van naam.” Gen. 6:4.

Kort anderkant Jerusalem
daar het gewoon Metusalem,
die man wat hul – dit sal jy sien –
vermenigvuldig het by tien!
Hy was g’n vier jaar in die land
toe kry hy al sy eerste tand;
by tien jaar kruip hy oral rond,
‘n flinke knapie en gesond:
toe rol hy al, en val en woel
en staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy ‘n jaar of elf
toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar;
die eerste wisseltand was daar;
en volgens landswet ry “oom Kool”
op ou Behémot na die skool,
sy vaders trots, sy moeders vreugd’,
Met Step by Step en Trap der Jeugd
in Hoog-Galdeeus en Aramees,
want almal moes tweetalig wees.
‘t Was goed en wel, maar alte vaak
het dié twee “opgemix” geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
en Hellembroek – die dubb’le – leer;
nog tien jaar toe begin hy al
‘n mooi klein nooientje lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
“Kniehalter-span sal ek vir hom!
’n Bog van honderd-tagtig jaar
praat al van trou – so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop –
hy dink glo trou is kémel koop!”
“Kind,”sê sy ma, “daar’s baie tyd –
waarvoor die grote haastigheid?”
Maar wat, die snuiter was getroud
skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig, veertig jaar
is weer ‘n nuwe outjie daar.
So word met dat die eeue rol,
ook mettertyd sy koker vol –
‘n pure man Metusalem,
die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
en skiet die wolhaar –Brontosour;
en van sy vel maak hy ‘n jassie
vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
en lief Kirjatjaromertjie,,
Die tweelingboetie en sy sussie,
kry elk ‘n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as ‘n olifant;
maar Hammoerabie huil en sê
hy wil ‘n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom ‘n walvis vang.
“Habbakukkiena, bly tog stil!”
“Ag, Ma, hul vat my krokodil!”
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
by dié verteed’rend kinderspel:
Hoedat – dis om jou hart te steel –
die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
tot sewehonderd-sewentig,
Toe sê hy: “Kinders, nou gaan ek
my aan die boerdery onttrek.
Voor nog ‘n honderd jaar verloop,
sal ek vir my ‘n bril moet koop.
Die paar ou eeutjes wat ek nog
hier op die aarde lewe mog,
wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
die dokter en die predikant
is albei sommer byderhand.
Hou as ek weg van julle woon,
my kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet,
vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
betaal kontant: die lewe is kort,
’n droom – en voor ‘n mens gewaar,
dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is – so skyn dit my –
soos ‘n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na;
’t Word alles korter – liewe land! –
die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook – dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen!
Ligsinnigheid wat my verstom –
vanslewe was dit andersom.”

En so verslyt Metusalem,
sy ou-dag op Jerusalem,
en drink en rook op sy gemak
sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
“Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
in wilde-mens- en diergeveg,
die sware koue in die nat
vierhonderd jaar gelee gevat.
’k Onthou nog goed die groot kapok –
die sneeu tot aan die huis se nok.”

Op nege-sewentig min een,
sy tydjie om, was hy daarheen;
en niemand wis of dag daaraan
‘n wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Hy het die langste aangehou!



Back to content | Back to main menu